Sing

 

Klassieke Kultuur Met Komiese Gevolge…

 

 

Een van die pittigste en snaakste produksies

nog ooit op ons planke te sien…

 

 

Uiteindelik!  Vars, slim, onvergeetlike Afrikaanse humor wat donker komedie in Suid Afrikaanse teater tot ‘n nuwe vlak voer.  Die fenominale skrywer Wikus du Toit tref ‘n kolskoot met sy nuut verwerkte teks - Sing.

 

Voeg saam met dit die tydlose talent van Tobie Cronje, die formidabele styl van Lizz Meiring en die onbeperkte geestigheid van Terence Bridgett, en ons staan in die teenwoordigheid van properse teater - grensverskuiwend, dog terselfder tyd genoeglik genotvol.

 

Dis 1794, aan die hof van Koning Lodewyk die XVI. Toon (Bridget) en Tril (Cronje) wag vir die koning se minares, Madam Ratuur (Meiring) om haar weeklikse sangles te begin.  Dan verskyn daar ‘n brief van die koning in die geheime gleuf: “Madam Ratuur is ‘n spioen en moet onmiddellik van kant gemaak word.”  Toon besluit om haar die vervloekte aria uit die opera, Die Skanier van Brasil te laat sing - wetend dat geen sopraan  nog ooit die aria aangedurf het en lewendig daarvan afgekom het nie.  Daar is egter net een probleem. Madam Ratuur is uniek… nie net het sy drie borste nie, maar ‘n stem wat enige gesonde mens dadelik siek sal maak.  Die uiteinde van die saak – klassieke kultuur met komiese gevolge…

 

Die ensemble werk tussen die drie akteurs, gekombineerd met asemrowende visuele elemente en onvergeetlike klanke – is ‘n sinergie van genot.  Sing, laat jou na jou asem snak, en nie net altyd van die lag nie!

 

Die regie word behartig deur Alby Michaels, ‘n jong regisseur wat besig is om groot naam vir homself te maak met sy innoverende, en sterk visuele produksies.  Dawid Boverhoff is verantwoordelik vir die musiek en neem die gehoor op ‘n magiese reis met sy asembenemende gebruik van klank en verskeie instrumente.  Ann Bailes en Kirsten Bailes skep karakters van hulle eie met hul ongelooflike kostuum ontwerp.  Kosie Smit doen die stel en beligting ontwerp, en het ook besluit om sy uitsonderlike talente toe te pas tot die vervaardiging van Sing.

 

 

Ouderdomsbeperking, (16) Taalgebruik

 

 

Fotografie:                      Robert A. Hamblin